Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika ʼn politieke rugbyspan stuur om aan die wêreldbeker-toernooi deel te neem, en dit is ontnugterend dat die rugbywêreld na sy sportboikotte in die vorige bedeling, nou oënskynlik bereid is om ʼn Springbok-kwotaspan klakkeloos te aanvaar, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Adv. Alberts sê indien dit more met die aankondiging van die span blyk dat kwotas wel ʼn rol gespeel het, sal die VF Plus eerskomende Maandag ʼn versoekskrif aan die Britse ambassadeur oorhandig waarin gevra sal word dat Brittanje kennis neem van die aangeleentheid, aangesien die toernooi vanjaar in Engeland aangebied word.

Die skrywe sal die ambassadeur, die Britse rugby-owerhede en die Britse regering vra om kennis te neem dat:

1.ʼn Kwota gegrond op ras gebruik is met die kies van die Suid-Afrikaanse span. Dit verbreek die goue internasionale sportkode van geen politieke inmenging in sport;

2. Suid-Afrika se sterkste beskikbare span sal nie aan die toernooi deelneem nie;

3. Die uiteindelike toernooi-wenner sal nie daarop aanspraak kan maak dat hy die wêreld se kampioenspan is nie aangesien Suid-Afrika wel ʼn redelike kans sou staan om die toernooi met sy beste spelers te wen;

4. Die kwota-kwessie opsigself het ʼn uiters negatiewe impak op die individuele spelers en die span, en die regeringsinmenging veroorsaak verdeeldheid in die Suid-Afrikaanse samelewing op ʼn rasse-grondslag;

5. Die deelname van ʼn potensiële wenner wat op hierdie wyse benadeel word, bring die geloofwaardigheid van die toernooi in die gedrang.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het onlangs ʼn striemende aanval op Saru en Heyneke Meyer, Springbok-afrigter, gedoen en het onder meer gesê Saru laat Meyer toe om te ‘maak en breek’ soos hy wil.

Adv. Alberts sê Mantashe en die ANC kan gerus daarop let dat toeskouers by veral rugby en krieket nie die nasionale demografie verteenwoordig nie terwyl die regering dit nou op die spanne wil afdwing. Borge gaan ook nie bereid gaan wees om miljoene rande in onderpresterende kwotaspanne te belê nie.

“Die VF Plus wil dit benadruk dat meriete die enigste maatstaf moet wees. Daar is wel goeie swart spelers wat verdien om in die Springbokspan te wees, terwyl swart spelers sokker oorheers. In stede van politieke inmenging in bestaande spanne, moet die regering hom eerder daarop toespits om jong spelers te ontwikkel om teen die beste in die wêreld te kan meeding,” sê adv. Alberts.