Die Menseregtekommissie (MRK) het president Jacob Zuma in kennis gestel dat hy teen 4 Julie (vanjaar) moet antwoord op ʼn klag van haatspraak wat die VF Plus by die MRK ingedien het.

Dit spruit uit uitlatinge wat pres. Zuma in Januarie verlede jaar oor Jan van Riebeeck gemaak het toe hy onder meer gesê het die land se probleme het begin met die aankoms van Jan van Riebeeck en dat talle stryde, oorloë, sterftes, die gryp van grond en die ontneming van inheemse mense se politieke en ekonomiese mag, daarop gevolg het.

In ʼn skrywe van die MRK word genoem dat ʼn soortgelyke klag saam met dié van die VF Plus gevoeg is.

Adv. Alberts sê die verwikkeling is verblydend, maar dit is nogtans jammer dat daar eers opgetree word nadat die VF Plus die MRK in April vanjaar ingevolge die Paia-Wet versoek het om inligting te verskaf oor waarom geen vordering gemaak word met ondersoek nie.

Die VF Plus se klag is reeds in Januarie verlede jaar ingedien, kort na pres. Zuma se gewraakte uitsprake.

In die brief wat die VF Plus in April aan die MRK geskryf het, is gevra waarom die kommissie oënskynlik onwillig is om pres. Zuma te ondersoek aangesien geen van verskeie klagtes teen die president in die laaste twee jaar afgehandel is nie.

Die VF Plus het ingevolge die Wet tot die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) inligting van die MRK aangevra wat lig sal werp op die klagtes en ondersoeke teen die president. Dit was nadat die MRK nie eens wou antwoord op die VF Plus se navrae oor die ondersoek nie.

Adv. Alberts sê benewens die antwoorde wat die MRK ingevolge die Paia-Wet aan die VF Plus moet verskaf, moet die MRK ook antwoord waarom hy toegelaat het dat die president ʼn duidelike sperdatum van 8 Mei verlede jaar verontagsaam het sonder dat teen hom opgetree is.

Nadat die VF Plus se klag in Januarie verlede jaar ingedien is, het die MRK aanvanklik aangedui dat dit ondersoek word en dat die president teen 8 Mei op die bewerings moes antwoord. Daarna het niks gebeur nie en die VF Plus se navrae is nie beantwoord nie.