Parool-aansoeke, soos dié van Eugene de Kock, moet op meriete behandel word en moet nie politieke besluite wees nie, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Korrektiewe Dienste.

Dr. Groenewald sê ‘n man soos De Kock, wat duidelik ‘n politieke gevangene is, is in die steek gelaat deur die vorige bedeling en sy president, mnr. F.W. de Klerk. Waar die ANC ‘vir meer as 20 000 van sy mense amnestie beding het’, het die De Klerk-regering nie dieselfde gedoen nie.

“Ek ken hom (De Kock) nie en ek ondersteun nie wat hy gedoen het nie. Maar dit was arrogant van die De Klerk-regering om nie dieselfde te doen as die ANC nie. Eugene de Kock is nou ‘n slagoffer daarvan,” sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald het aan die minister van justisie en korrektiewe dienste (Mike Masutha) gesê hy het ‘n paroolraad en hy moet na sy aanbevelings luister.

“Die raad ondersoek ‘n bepaalde geval, en die meriete daarvan, en dan beveel hulle aan of ‘n persoon parool mag kry. Ek verwys hier spesifiek na die geval van De Kock.

“U moes ‘n besluit geneem het, maar u het ‘n politieke besluit geneem. In so ‘n geval doen u \die paroolraad ‘n onreg aan,” sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald het ook gesê korrupsie is ‘n groot uitdaging waaraan die minister sal moet aandag gee. “Hiermee sê ek nie alle amptenare is korrup nie. Ons weet daar is ook goeie amptenare, maar korrupsie bly ‘n groot probleem. U moet iets daaraan doen,” het hy gesê.