Die staat kan nie bloot arbitrêr mynlisensies terugtrek as myne nie voldoen aan die mynbou-handves se vereistes oor transformasie nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor minerale.

Hy sê die dreigement van Ngoako Ramathlodi, minister van mineralebronne, om lisensies te onttrek, is nie die manier waarop ‘n verantwoordelike minister in die verband moet optree nie.

Ramathlodi het luidens mediaberigte gister gesê die handves stel sekere transformasieteikens en mynlisensies is ‘n ‘wapen in sy hand’ wat hy sal gebruik indien nodig. Die handves, wat sekere transformasieteikens stel, word tans hersien.

Adv. Alberts sê Suid-Afrika is ‘n grondwetlike demokrasie en geen mag, soos die kansellering van lisensies, kan uitgeoefen word sonder dat dit deur ‘n wet toegelaat word nie.

“Daar bestaan geen wetlike beginsel wat die minister se uitlatings regskrag gee of hom toelaat om arbitrêr lisensies te onttrek nie, omdat maatskappye self kan kies of hulle aan die SEB-wet wil voldoen of nie. Dis nie verpligtend om daaraan te voldoen nie.

“Die huidige kodes wat uitgereik is deur die minister van handel en nywerheid is egter so drakonies dat baie mense net gaan opgee om daaraan te probeer voldoen, en dit kan myne insluit.

“Dreigemente is die verkeerde manier om die mynwese te probeer bestuur. Alle belanghebbendes en rolspelers moet eerder om ‘n tafel gekry word om ‘n balans uit te werk tussen die belange van myneienaars en werkers sodat daar nie weer ‘n Marikana plaasvind nie.

“Daar moet ook wyses van gemeenskapsbemagtiging gevind word waar myne wel operasioneel is. Dit kan plaasvind deur mede-aandeelhouding en dorps- en entrepreneursontwikkeling soos tans by Kumba se myne in Sishen,” sê adv. Alberts.