Die VF Plus verwerp met minagting die oproep van die EFF om weg te doen met Die Stem as deel van die volkslied en waarsku die EFF dat hy met dié onversoenende optrede ‘n omgewing skep waarin konflik kan ontstaan, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Dit volg nadat Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP en dié party se nasionale woordvoerder, vanoggend in ’n gesamentlike sitting van die portefeuljekomitee oor kommunikasie en telekommunikasie en die posdiens hierdie uitlating gemaak het.

Adv. Alberts sê dit is ‘roekelose politiekery’ van die EFF in die lig van die geskiedenis waar staatsmanne soos Nelson Mandela veel gedoen het om versoening aan die hand te werk.

“Hulle moet besef dat hulle met vuur speel deur minderhede en veral die Afrikaner te teiken en dat dit tyd is vir hulle om groot te word en verantwoordelik politiek te bedryf tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

“Die politieke styl van konflik wat deur die EFF toegepas word, is eindelik onvolhoubaar en dra nie tot enige oplossings by vir ons land se komplekse probleme nie.

“‘n Redelike oplossing tot hierdie situasie word reeds deur die Grondwet daargestel deur die twee fundamentele regte van vryheid van spraak en vryheid van assosiasie.

“Dit beteken op nasionale vlak is daar plek vir ‘n versoenende volkslied soos wat tans bestaan en by kulturele byeenkomste van die verskillende kultuurgroepe in Suid-Afrika kan mense sing wat na aan hul hart is sing sonder om iemand anders te benadeel.

“Ons verduur vryheidsliedere van hul kant en hulle moet kultuurliedere aan ons kant ook akkommodeer,” sê adv. Alberts.