“Die Menseregtekommissie (MRK) skram daarvan weg om president Jacob Zuma te ondersoek nadat die Vryheidsfront Plus ʼn klag van rasseverdeling en die stook van rassehaat teen hom ingedien het,” sê dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die Vryheidsfront Plus.

Dr. Groenewald sê die klag spruit uit die uitlatings wat Zuma by die ANC se 104de verjaarsdagvieringe gemaak het dat grond die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid en dat die grond in Suid-Afrika gevat en gesteel is.

“Daar is geen twyfel nie dat Zuma met hierdie opmerking die wittes in Suid-Afrika geteiken het asof hulle die oorsaak van alle armoede, ongelykheid en werkloosheid is. Daar word ook gereeld in die parlement gesê ‘wittes het die grond gesteel’. Dit stook rassehaat aan en daarom het die Vryheidsfront Plus die klag van rassisme vroeër hierdie maand ingedien by die Menseregtekommissie om Zuma te ondersoek.

“Die MRK se provinsiale kantoor in Noordwes het in sy antwoord geskryf dat die klag nie ondersoek gaan word nie. Die kantoor beweer dat die klag nie binne sy jurisdiksie val nie en dat die opmerkings nie die skending van menseregte behels ingevolge die Grondwet nie (sien onderstaande skrywe).

“Die Vryheidsfront Plus verskil hiermee en gaan appèl aanteken, aangesien die Grondwet in art. 83c dit duidelik stel dat die president ʼn grondwetlike plig het om die eenheid van die nasie te bevorder tot voordeel van die land. Artikel 10 van die Grondwet bepaal verder dat elkeen ʼn inherente menswaardigheid het en dat dit gerespekteer en beskerm moet word. Om te impliseer dat wittes die grond in Suid-Afrika gesteel het, tas elke witte se inherente menswaardigheid aan en is niks anders as rassisme nie.

“Die feit dat Zuma hierdie opmerking in Rustenburg voor tradisionele leiers gemaak het, vererger die situasie as in gedagte gehou word wat die gevolge was met die uitlatings van die Zoeloe-koning oor vreemdelinge in Suid-Afrika. Die Zoeloe-koning se opmerkings is wel deur die MRK ondersoek. Dit is ook duidelik dat Zuma die EFF probeer troef oor die grondkwessie wat emosies en humeure vinnig laat opvlam.

“Die teendeel oor grond is egter waar. Grond vereis harde werk en kundigheid om bewerk te word en om produksie te lewer. Die blote besit van grond gaan nie armoede, ongelykheid en werkloosheid skielik oplos nie. Zuma en die ANC weet nie meer hoe om armoede en werkloosheid op te los nie en nou word op ʼn onverantwoordelike en emosionele wyse die wittes daarvoor beskuldig. Dit is ʼn gevaarlike resep wat rassekonflik skep,” het Groenewald gesê.