Die Vryheidsfront Plus betwis mnr. Julius Malema se aanspraak dat die swart mense die alleeneienaars van Suid-Afrika se grond is, sê mnr. Werner Weber, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor grondsake.

Mnr. Weber sê Malema behoort te weet dat daar nog altyd groot debatte in Suid-Afrika hieroor plaasvind omdat daar ernstige verskille en dispute oor die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika  is.

Hy sê Malema moet sê waarop hy sy aansprake grond dat swart mense die oorspronklike bewoners van Suid-Afrika is. Die Khoi-San was volgens alle aanduidings die land se eerste bewoners.

“Toe die eerste swart mense die Limpopo-rivier oorgesteek het in hulle suidwaartse migrasie, was die Khoi-San reeds hier. Malema moet sê hoe hulle toe die grond bekom het. Het hulle die grond van die Khoi-San gekoop, of het hulle dit net gevat?

“Wit mense kan traktate toon as bewys dat hulle grond regmatig bekom het. Kan Malema koopbewyse toon om sy aanspraak op eienaarskap te regverdig?” vra mnr. Weber.