Die nuwe Wetsontwerp op Kopiereg hou omvattende onheilspellende gevolge in vir alle kunstenaars in Suid-Afrika en kom daarop neer dat ʼn lied soos Steve Hofmeyr se Pampoen eendag outomaties aan die staat gaan behoort as die sanger nie meer daar is nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Die sinistere wetsontwerp is verlede maand stilweg in die Staatskoerant gepubliseer. Dit bevat verskeie kommerwekkende aspekte, waarvan die belangrikste die oorerwing van kopiereg na die staat is

Adv. Alberts sê dit affekteer alle kunstenaars soos skrywers, filmmakers, fotograwe, beeldhouers, skilders, musikante ensovoorts.

Luidens ʼn berig in vandag se Business Day bepaal die wet van die departement van handel en nywerheid dat die eienaarskap van alle kopiereg na ʼn persoon se dood outomaties en permanent aan die staat oorgedra word. Sover bekend bestaan so ʼn bepaling in geen ander land in die wêreld nie.

Die wet bepaal voorts dat die staat op geen wyse kan wegdoen met hierdie besitreg soos deur dit te verkoop nie. Dit is die staat se uitsluitlike eiendom om mee te handel na goeddunke.

Nog ʼn bepaling van die wet is dat dit voorsiening maak vir ʼn Intellektuele Eiendoms-Tribunaal met wye magte en die daarstelling van ʼn vereiste minimum vir plaaslik vervaardigde inhoud vir die uitsaaibedryf.

Hierdie inhoud vir openbare uitsaaiers word op 80% gestel terwyl dit 60% vir private uitsaaiers is met swaar strawwe vir instansies wat dit nie nakom nie. Indien dit realiseer, kan kykers dus gereed maak vir ʼn magdom herhalings – veel meer as wat tans die geval is.

Adv. Alberts sê die Wetsontwerp is een van ʼn lang rits wetgewings met ʼn kommunistiese inslag wat daarop gemik is om beheer oor alles moontlik in die land te verkry te koste van die landsburgers.

“Die VF Plus sal dit teenstaan in die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheidskomitee waar ek self sitting het.

“Ons nooi intussen alle kunstenaars om hul besware te registreer deur ‘n e-pos te stuur aan; help@vfplus.org.za met die onderwerp “Kopiereg” en die persoon se naam, van, kontaknommers, e-pos-besonderhede en die aard van bedryf sodat ʼn georkestreerde veldtog teen die Wetsontwerp van stapel gestuur kan word,” sê adv. Alberts.