• Post category:All

Die klag wat die VF Plus enkele jare gelede by die parlementere portefeuljekomitee oor handel en nywerheid en die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) ingedien het, lewer nou dividende en het ʼn baie groter effek as wat ooit verwag is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir handel en nywerheid.

Die klagte is ingedien nadat die VF Plus verskeie bewerings van ongerymdhede en onetiese optrede in die bedryf ontvang het. Duisende ontevrede klublede van regoor die land het by die VF Plus aangeklop om hulp, en al hierdie klagte het deel van die ondersoek geword.

ʼn In diepte-ondersoek is sedertdien gedoen na onder meer die stand van die puntestelsel in die vakansieklub-bedryf, en volgens die NVK het hul ondersoek mettertyd baie groter probleme oopgevlek.

Die volgende is tydens die ondersoek bevind:

  1. Die ewigdurende aard van vakansieklubkontrakte is onwettig en lede moet weens dié bepaling kan terugtree uit die kontrak;
  2. Die puntestelsel, in teenstelling met stelsels geskoei op tyddeel en deeltitelbasis wat albei deur wetgewing gereguleer word, is ʼn onwettige skema ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming;
  3. Die NVK het teen dié agtergrond twee aansoeke gebring by die Verbruikerstribunaal (VBT) teen twee groot klubgroepe en versoek die volgende remedies:
  • Dat die puntestelsel tot ʼn onwettige skema ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming verklaar moet word met die gevolg dat alle sodanige kontrakte ongeldig sal wees;
  • Indien die eersgenoemde versoek nie slaag nie, moet kontrakte met ewigdurende klousules as onwettig verklaar word.

Die effek van sukses op enige van die twee versoeke sal wees dat die meeste, indien nie alle puntestelselkontrakte nie, onwettig sal wees en dat dit nie afdwingbaar sal wees nie. Dit sal beteken dat mense wat sukkel om die kontrakte se heffings te betaal, nie meer daaraan gebind sal wees nie.

Indien daar wel bevind word dat die puntestelsel-skema in sy geheel onwettig is, sal die VF Plus ingryping vra by die departement van handel en nywerheid om te sorg dat alle lede en gewese lede wel waarde vir hul geld kry wat oor jare betaal is deur hul bydraes en lidmaatskap opnuut te koppel aan die bates en veral talryke vakansie-eiendomme wat in die klubs bestaan.

Dit sal daarop neerkom dat lede en gewese lede ʼn wettige ekonomiese belang in die bates sal bekom deur byvoorbeeld aandele in die maatskappy waarin die bates lê. Daardie aandele sal dan makliker verkoop kan word weens die onderliggende bates met waarde geskoei op vaste eiendom.

Die twee klubs waarteen die aansoek gerig is, is:

  1. Die Univisiongroep wat bestaan uit; Vacation Recreational Services, Quality Time Marketing, Quality Vacation Club, African Club Innovations, Multi Destination Club, Lifestyle Vacation Club en African Vacation Klub;
  2. Die Club Leisuregroep wat bestaan uit; Eagle Trust, Hibiscus Trust, Club Leisure Holding, Club Leisure Group, Club Leisure Sales, Club Leisure Development, Club Leisure Management, First Resorts Management, Flexi Club Property Holdings, Flexi Holiday Club, Flexi Club Management Services, Off Beat Holiday Club, Rainbow Vacation Club, Golf Resorts Club, Holiday Access, Interchange Vacation Club en Club Resorts International.

Die beslissing wat die VBT maak sal algemene gelding hê en dus sal alle klubs wat nie by die bogenoemde twee aansoeke ingesluit is nie, ook daaraan gebonde wees.

Die aansoeke is aan die begin van die jaar ingedien en die Univision-saak kom nou in November 2015 voor. Daar word verwag dat die Club Leisure-saak vroeg aanstaande jaar sal plaasvind.

Intussen is dit van groot belang dat klublede wat probleme met hul lidmaatskap het op grond van die feit dat hulle nie die diens kry waarvoor hulle betaal nie en/of die ewigdurende aard van die kontrak, steeds individueel aansoek by die NVK kan doen om hulle saak te bereg.

Talle aansoekers het reeds so hul kontrakte laat kanselleer of het ander oplossings ontvang. Dit kan gedoen word deur ʼn e-pos aan die VF Plus te stuur by help@vfplus.org.za  waarna ʼn NVK-aansoekvorm aan die aansoeker gestuur sal word.

Vul die vorm in en stuur dit terug aan die VF Plus met alle ondersteunende dokumentasie aangeheg. Die party sal dan die aansoek per hand by die NVK se hoofkantoor gaan afgee en die NVK sal dan direk met die aansoeker skakel en ʼn verwysingsnommer gee.

“Dit lyk dus of die werk van die VF Plus in die verband groot vrugte afgewerp het en is ʼn bewys dat die party opstaan vir die verbruiker en belastingbetaler in Suid-Afrika,” sê adv. Alberts.