Hoër onderwys is veronderstel om waarde toe te voeg tot ʼn persoon se lewe, asook dié van sy gemeenskap en die land as ʼn geheel. Onder die huidige onderwysstelsel raak dit egter toenemend bloot ʼn rubberstempel tot ʼn somber toekoms, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.

Hy sê universiteite kry toenemend meer studente met ʼn groot kognitiewe agterstand wat die maaksel is van die departement van basiese onderwys, en dan vererger hoër onderwys die probleem deur intervensie wat gegrond is op ideologie en nie pedagogie nie.

  • Ten eerste die ideologiese denke van vrye toegang tot alle koste: Die ANC se beloftes van gratis onderwys is reeds besig om in sy gesig te ontplof. Valse beloftes wat nie nagekom kan word nie, dek die tafel vir ʼn revolusie. Met die kreeftegang van die ekonomie is dit moeilik om te sien waar die geld hiervoor gevind gaan word. Ironies moet ʼn revolusionêre minister nou die huidige bestel probeer verdedig teen revolusionêre studente. Die beloftes van gratis onderwys gekoppel aan swak basiese onderwys en lae toegangstandaarde by universiteite het ʼn perfekte storm geskep waar te veel studente universiteit toe wil gaan met die misplaaste hoop om aanvaar te word. Indien dit nie realiseer nie, is frustrasie die eindresultaat. Te veel studente wil universiteit toe gaan terwyl Suid-Afrika ʼn nypende tekort aan opgeleide ambagsmanne het.
  • Universiteit-standaarde: Daar is duidelik laer standaarde by universiteite wat lei tot groot ontnugtering wanneer ʼn gegradueerde die arbeidsmark betree. Adv. Alberts sê hy is bewus van gevalle waar universiteite studente deursit bloot om ʼn beter slaagsyfer te hê.
  • Outonomie van universiteite: Die minister se konsepwetgewing om universiteite se tradisionele magte oor te neem is die eerste stap op pad na totale staatsoorname van universiteite se outonome karakter. Daarsonder is ʼn universiteit bloot ʼn werktuig vir staatsindoktrinasie.
  • Moedertaalonderrig: Die minister moet begin begryp dat moedertaalonderrig in die voorgraadse fases die enigste lewensvatbare opsie is vir hoë kwaliteit-onderrig en dit kan verskaf word deur onderrig stelselmatig in al die amptelike tale moontlik te maak sonder om Afrikaans uit te faseer soos wat tans plaasvind. Die waarde van moedertaalonderrig is wetenskaplik bewys en beteken dat die minister meer sal moet bestee aan die akademiese ontwikkeling van swart amptelike tale en die skepping van leerruimtes vir die taalsprekers. Die verengelsing van die universiteite wat tans gebeur is ʼn blote verskraling van ons inheemse tale en kulture teen die gees van die Grondwet in.

“Dit is dus duidelik dat daar revolusionêre veranderinge nodig is om die departement van hoër onderwys reg te ruk, al is dit dalk nie die revolusie wat die minister in gedagte gehad het nie,” sê adv. Alberts.