• Post category:All / Government

image001Die gebeure by die landboukollege Elsenburg is onaanvaarbaar en die kollege-bestuur sal moet verduidelik waarom opruiende studente, sommige met EFF-oorpakke en sambokke, op die perseel toegelaat is, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê die bestuur sal ook moet verduidelik waarom daar nie genoegsame polisie en veiligheidspersoneel was om te verhinder dat die opruiende studente in gevegte betrokke geraak het met studente wat in klasse was om toets te skryf nie.

Volgens dr. Mulder het dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus, die saak gister met die kollege bespreek, en die versekering is aan hom gegee dat daar wel genoegsame polisie teenwoordig sou wees om die veiligheid van dosente en studente te verseker, en te verhinder dat probleme ontstaan.

“Daar is duidelik nie by hierdie onderneming gehou nie, nieteenstaande die feit dat daar met die optog Maandag toegelaat is dat ʼn uiters plofbare situasie geskep word.

“Die VF Plus versoek dat daar nou dringend opgetree word teen die skuldiges. Dit is nie goed genoeg om te sê dat ʼn gedragskode bestaan wat die soort optrede verbied nie. Dit moet nou afgedwing word. Die ware verloorders hier is die studente wat wil studeer.

“Dit is jammer dat die taalstryd juis op Stellenbosch in ʼn bloedige konfrontasie tussen studente moes uitloop,” sê dr. Mulder.