Die DA-bestuurspan van Wolseley in die Witzenberg-munisipale distrik het saam met verskeie voormalige DA-lede hul bande met die DA verbreek en by die VF Plus aangesluit.

Mnr. Vic Coetzee (voorheen DA-voorsitter), mnr. Louis Havenga (voorheen DA-ondervoorsitter), mnr. Floris Fourie (voorheen DA-tesourier), mev. Elsa Coetzee (voorheen waarnemende DA-sekretaris) vorm nou saam die kern van ʼn loodskomitee wat ʼn VF Plus-tak op die dorp gaan vestig.

Verskeie mense van die bruin gemeenskappe in Witzenberg het die VF Plus die afgelope tyd ook genader en het by die tak aangesluit. Die tak sal deel vorm van die VF Plus se aksies om groot impak in die distrik te maak in aanstaande jaar se plaaslike verkiesing.

Volgens al die persone het die DA se nuwe beleidsrigting ʼn afstand geplaas tussen dié party en lede van minderhede wat tot nadeel van wit en bruin strek.

Almal het gesê hul optrede dra groot steun weg van die gemeenskap, en dat hulle sal voortgaan om met groot ywer te werk vir elke persoon in Witzenberg.