• Post category:Government

Die maatskappy Bidvest het nou aan die VF Plus bevestig dat die SAL hom wel onder druk geplaas het om 30% van sy filiaal wat vliegtuigtoilette skoonmaak, oor te dra aan ʼn swartbemagtigingsvennoot van die SAL se keuse, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Dit was voordat die VF Plus die kommissie op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB-kommissie) einde verlede jaar versoek het om die aangeleentheid te ondersoek.

Die kommissie het die SAL daaroor gekonfronteer, en die aangeleentheid is toe op ʼn aanvaarbare wyse besleg, luidens ʼn skrywe van die uitvoerende direkteur van die Bidvest Groep, Mpumi Madisa, aan die VF Plus.

In die aangeleentheid is Bidvest aanvanklik versoek om 30% van sy filiaal BidAir Services, wat reeds swart eienaarskap van 63,42% en ʼn swart vroue-belang van 24,85% gehad het, aan ʼn swart bemagtigingsvennoot oor te dra.

Adv. Alberts sê hy is verheug oor die feit dat die saak op ʼn vriendskaplike wyse opgelos kon word.

“Die VF Plus sal in die toekoms aanhou om SEB te monitor om te verseker dat die staat en staatsondernemings nie die besigheidsektor boelie om swarter as die wetlike vereiste te word nie.

“Dit sal baie skade aan ons ekonomie veroorsaak, en as die enigste party wat teen SEB, maar vir die bemagtiging van armes sonder aansien van kleur is, sal die VF Plus voortgaan met sy waghondfunksie,” sê adv. Alberts.