Banke sal in die afsienbare toekoms aan die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid moet verduidelik oor hul kredietpraktyke en in die besonder die toestaan van onversekerde krediet, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Volgens adv. Alberts het hy vandag die versoek gerig tot die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee in die lig van die African Bank (Abil)-debakel waar die Reserwebank nou moes ingryp met ʼn reddingsboei van R10 miljard om die bank van ondergang te red. Die versoek is toegestaan.

Adv. Alberts sê wat veral kommerwekkend is, is die feit dat African Bank die portefeuljekomitee verlede jaar moontlik mislei het toe die banke die komitee moes inlig oor hul praktyke en vrae van die komitee moes beantwoord oor onder meer krediet.

“Die komitee het toe sy kommer uitgespreek oor kredietpraktyke, veral van African Bank, maar die antwoord was dat daar geen probleme is nie. Die blyk nou dat die komitee moontlik mislei is aangesien die bank toe reeds bewus moes gewees het van probleme.

“Indien opsetlike misleiding wel plaasgevind het, is dit minagting en ondermyning van die parlement en ʼn oortreding van die Wet op Parlementêre Magte en Privilegie en kan daar teen die betrokke amptenare van die bank opgetree word,” sê adv. Alberts.

Intussen is daar ook groot skok en ontevredenheid onder beleggers wat verneem het dat hulle geld op die geldmarkfondse verloor het weens blootstelling aan African Bank.

Hieroor sê adv. Alberts dit is ongehoord in die land se geskiedenis aangesien banke gewoonlik die versekering aan beleggers gee dat hul kapitaal veilig is. In hierdie geval het banke en ander instansies by African Bank belê nieteenstaande duidelike tekens dat die bank probleme
het.

“Kliënte wat geld verloor het, gaan met die VF Plus hieroor gesprek voer aangesien daar van hulle geld gebruik is selfs nadat die aandeel van Abil opgeskort is en die betrokke banke se noulettendheidsondersoek vir verdere beleggings duidelik gebrekkig was.

“Dit kan in die lig hiervan gewis regsimplikasies vir die betrokke banke en instellings inhou,” sê adv. Alberts.