Suid-Afrika moet met groot erns ter harte neem wat met die Griekse ekonomie gebeur het aangesien sy eie skuldlas en teen-produktiewe groeiplanne die land soos ʼn Titanic op ʼn ysberg van ekonomiese ineenstorting afstuur, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir ekonomie.

Adv. Alberts sê Suid-Afrika se ekonomie beleef nuwe en kommerwekkende laagtepunte met ʼn vinnig groeiende skuldlas terwyl daar geen sprake van koersverandering is met die ANC in beheer van die ekonomie nie.

Die jongste verbruikersvertroue-indeks van FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BER) toon aan dat verbruikersvertroue in die tweede kwartaal van die jaar na sy grootste laagtepunt in byna 15 jaar geval het. Van die redes wat hiervoor genoem word, is maatskaplike en politieke onrus, die kragkrisis en ʼn swakker rand.

Die indeks het in die eerste kwartaal van nul na -4 indekspunte verswak. In die tweede kwartaal het die indeks gedaal tot ‘n vlak van -15 indekspunte. Die huidige vlak van -24 is die laagste sedert die resessie van 1992/’93 toe dit -25 indekspunte was.

Dit is teen die agtergrond van mediumtermynvooruitskattings (wat onlangs deur die navorsingseenheid van Solidariteit gedoen is) is dat die nasionale skuld vanaf 2014/2015 met sowat 31% sal toeneem van R1,8 duisend miljard tot R2,3 duisend miljard in 2017/18.

Die beweging in die land se skuld-tot-BBP-verhouding van 31,6% in 2009/10 tot 46,2% in 2014/15 is gewis ook nie besig om ongesiens by internasionale krediet-agentskappe verby te gaan nie. Staatsbesteding het die afgelope ses jaar met gemiddeld 10,1% per jaar toegeneem met ʼn groeikoers van slegs 7,7% in staatsinkomste, volgens die navorsing.

Adv. Alberts sê indien die huidige situasie voortduur, sal Suid-Afrika teen 2026 net genoeg geld hê vir staatssalarisse en welsyn, aldus prof. Jannie Rossouw, voormalige adjunk-hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en nou hoof van Wits se Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe.

“Die fiskale ysberg is egter net een van talle wat Suid-Afrika se ekonomie kan laat sink. Ander kan dit bespoedig, en die grootste hiervan is die krag-ysberg wat reeds aan die boeg skuur.

“Daar is ook dreigende watertekorte wat spoedig ʼn groter impak kan hê as kragtekorte, die ineenstorting van dienste, voedseltekorte weens verskeie redes, korrupsie en talle kleineres soos ʼn tekort aan steenkool vir kragopwekking.

“Die ANC is besig om die land se ekonomie sienderoë te vernietig. Na wie gaan Suid-Afrika die hand uitsteek om te red? Die ANC kan by voorbaat die Afrika-Unie uit hierdie berekening laat,” sê adv. Alberts.