Die ANC se planne met Suid-Afrika herinner aan die futuristiese rolprent ‘War of the Worlds’ waar die eerstepersoon-verteller ons inlig oor die indringers se planne met die aarde met die volgende stelling: “(they) regarded this Earth with envious eyes, and slowly, and surely, they drew their plans against us…”.

Net so is die ANC besig om sy sogenaamde Nasionale Demokratiese Revolusie te gebruik om Suid-Afrika te omvorm in ʼn kommunistiese staat waar hy alle mag en beheer het sonder enige plek vir minderhede, en die kodenaam hiervoor is ‘transformasie’, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.

Adv. Alberts sê dit raak toenemend duidelik dat die ANC hoër onderwys beskou as ʼn magsbasis wat deur hom beheer moet word. Die proses om beheer te neem is reeds in werking gestel by basiese onderwys met die gevolg van swak geskoolde leerlinge.

Hy sê ʼn voorbeeld hiervan is Gauteng waar die LUR vir onderwys al hoe meer magte bekom in weerwil van die beginsel van gemeenskaps-demokrasie. Die regte van die gewone burger word stelselmatig weggekalwe en hoër onderwys is die volgende teiken.

“Midde-in die stryd om die tesourie van kaping te red, is daar nou nog ʼn stryd om hoër onderwys te red uit die tentakels van minister Blade Nzimande, die man wat die vrye markstelsel haat, maar hovaardig leef, ry, vlieg en klee in die produkte van dié stelsel.

“Die doel van die wysigingswetsontwerp op hoër onderwys is daarop gemik om magte van hoër onderwysinstellings weg te neem en aan die minister oor te dra wat hom in staat sal stel om sy transformasie-planne uit te voer en stelsels in plek te plaas om sy eie agenda te bevorder.

“Transformasie is die kodewoord vir totale sentralisering van mag en die vernietiging van diversiteit op die pad na die verwesenliking van ʼn kommunistiese staat en hierdie wetsontwerp is een van die instrumente wat vir die doel gebruik word.

“Die minister en die ANC moet egter besef dat die VF Plus verstaan waarmee hy besig is. Bo en behalwe die wetgewende aanvalle wat die ANC loods om ons wêreldklas universiteite in ‘bos-universiteite’ te omskep, weet ons ook wat sy planne met minderhede is.

“Die Khoi, San, bruin gemeenskap, Indiërs, Jode en Afrikaners het geen plek of toekoms in die ANC se planne nie. Hierdie mense, hul kultuur en taal is bloot ʼn irritasie wat stelselmatig uitgewerk moet word op alle vlakke van die samelewing.

“Die ANC het egter nie daarmee rekening gehou dat die EFF sy donder gaan steel in hierdie vernietigingsdrang en -proses nie. Minderhede gaan dit ook nie sonder slag of stoot aanvaar nie en is reeds besig om ʼn verenigde front teen hierdie aanslag te vorm.

In ‘War of the Worlds’ is die indringers eindelik deur natuurlike kieme vernietig. Net so sal die ANC en die EFF se aanslag op natuurlike wyse verydel word deur die meerderheid regdenkende mense van die land wat nie eens is met dié vernietigingsplanne nie,” sê adv. Alberts.